Khloé Kardashian het Lamar Odom glo ingelig sy wil skei.

Die ster van Keeping Up with the Kardashians het haar man in Augustus uit hul huis geskop in Tarzana, Kalifornië. Dit was in ’n vergeefse poging om hom te oorreed om behandeling vir sy dwelmverslawing te kry. Verlede Vrydag, op hul vierde huweliksherdenking, het sy hom ingelig sy is besig met die voorbereiding van egskeidingsdokumente.

’n Bron het aan Us Weekly gesê: “Sy het hom op hul huweliksherdenking gebel en gesê sy gaan om ’n egskeiding vra. Sy wou hom betyds waarsku. Khloé was baie ferm. Sy het gesê sy sal gou om die egskeiding vra, en sy dink dis die beste dat elkeen met sy eie lewe aangaan. Sy het gesê sy hoop hy kry die hulp wat hy nodig het.”

Khloé het onlangs op haar Instagram- en Twitter-profiel haar van, Odom, verwyder.

Lamar is glo verslaaf aan kristal-kokaïen. Hy het Khloé glo vroeër vanjaar met verskeie vroue verkul. Sy het tot nou by hom gestaan en haar trouring gedra.