Khloe Kardashian was glo vreesbevange toe sy hoor Lamar Odom is sterwend aan ’n oordosis dwelms.

Die ster van Keeping Up with the Kardashians het glo onlangs haar man uit hul herehuis in Calabasas, Kalifornië, geskop toe hy behandeling vir sy dwelmverslawing geweier het. Khloe (29) was Donderdag (12 September) glo vreesbevange oor gissinge dat die ou Los Angeles Clippers-speler (33) sterwend was aan ’n oordosis kristal-kokaïen.

’n Bron het aan die skinderwebtuiste TMZ.com vertel Khloe was paniekbevange. Sy het Lamar probeer skakel, maar net sy stemboodskap gekry. Sy het ook al sy goeie vriende gebel voor sy haar man eindelik in die hande kon kry. Hy het haar verseker dit gaan goed met hom.

Toe Khloe hoor die gerugte was onwaar het sy glo weer gesê hy kan nie huis toe kom voor hy nie behandeling vir sy probleem kry nie.

’n Bron het aan HollywoodLife.com gesê Khloe wil graag met haar man versoen, maar sy probeer sterk wees. Sy en Lamar is vier jaar getroud en sy het glo sy dwelmprobleem twee jaar weggesteek.

Die bron het gesê: “Khloe en haar ma, Kris, stry of hulle Lamar se dwelmprobleme by Keeping Up with the Kardashians moet insluit. Khloe is heeltemal daarteen gekant, maar Kris wil dit doen. Khloe se prioriteit is om Lamar te help om sy verslawing te oorkom.”