Die paartjie woon al maande afsonderlik midde-in bewerings dat die 33-jarige basketbalster aan crack-kokaïen verslaaf was en sy vrou van vier jaar meermale verneuk het.

Hulle het verlede maand saam ’n konsert van Kanye West bygewoon, maar het nog verhoudingsprobleme. “Daar is geen sprake van ’n hereniging nie. Khloé is baie gefrustreerd met Lamar. Dat hy nie ’n poging aanwend om hom reg te ruk nie, het daartoe gelei dat Khloé maak asof sy nie meer in hom belangstel nie,” het ’n bron aan People.com gesê.

“Khloé weet nie hoe hulle ooit weer ’n gelukkig getroude paartjie kan wees nie,” het iemand in die binnekring gesê. “Sy is baie seergemaak dat hy vir haar gejok het dat hy dwelmvry is. En sy het dit duidelik gemaak dat hy nie tyd saam met haar familie kan deurbring tot hy reg is nie.”

Khloé (29) het in ’n onlangse aflewering van Keeping Up with the Kardashians oor haar probleme met Lamar gesels. “Ek lag sodat ek nie huil nie,” het sy gesê en via die kamera aan Lamar gesê: “Jy is nie my kind nie. Ek kan jou nie ’n kamer toesluit nie, al wil ek graag.”

Die werklikheidster het in September haar getroude van, Odom, van Instagram en Twitter verwyder, maar Lamar het verlede week volgehou hul huwelik is “onbreekbaar”. “Dit gaan wonderlik met ons. Ons is onbreekbaar; dis hoekom ek my trouring dra. Dis ’n pragtige ring wat ek by ’n pragtige vrou gekry het.”