Khloe Kardashian-Odom het ’n privaat speurder aangestel om te spioeneer op haar man, Lamar Odom.

Khloe (29), ’n werklikheidster, moes volgens ’n klousule in hul huweliksvoorwaardekontrak bewys van haar man se beweerde ontrouheid lewer. Sy het toe iemand aangestel om hom te agtervolg.

Lamar, wat glo kristal-kokaïen gebruik, word beskuldig van verhoudings met Polina Polonsky, Jennifer Richards en drie vroue, wie se naam nie bekend gemaak is nie.

’n Bron het aan RadarOnline.com gesê: “Khloe het nie net fotografiese bewyse dat Lamar haar met minstens vyf verskillende vroue verkul het nie, maar ook kopieë van teksboodskappe tussen hulle en Lamar.

“Sy is ’n slim vrou en het geweet sy moes ingevolge die ontrouheidsklousule in hul huweliksvoorwaardekontrak bewyse kry.”

Khloe en Lamar, wat in 2009 getroud is, woon glo nie meer saam nie nadat sy hom oor sy kullery uit hul huis in Los Angeles geskop het.

Lamar se minnares Polina het beweer dat hy ses weke in Junie en Julie by haar gebly het en dat sy hom in die tyd sien kristal-kokaïen gebruik het.