Khloé Kardashian het glo lank niks vir haar familie gesê oor haar huweliksprobleme nie.

Dis bekend dat die 29-jarige werklikheidstelevisiester ’n hegte band het met haar susters Kim (32) en Kourtney Kardashian (34) en hul ma, Kris Jenner (57), maar sy het dit glo vir hulle weggesteek dat sy en haar man, Lamar Odom (33), probleme het. Hulle is in September vier jaar lank getroud. Daar word onder meer beweer hy het ’n ernstige dwelmprobleem.

’n Bron het aan die tydskrif Us Weekly gesê: “Khloé het haar en Lamar se huweliksprobleme ’n hele ruk lank vir haar familie weggesteek. Niemand het daarvan geweet nie.”

Lamar het op Maandag 26 Augustus glo maar oes gelyk nadat hy ses dae lank weg was nadat Khloé hom uitgeskop het omdat hy nie rehabilitasie wil kry nie.

Lamar wou waarskynlik nie na ’n rehabilitasiesentrum gaan nie omdat die voorseisoen-opleidingskampe vir basketbal binnekort begin. Volgens TMZ het die Los Angeles Clippers ná beweringe dat Lamar ’n dwelmprobleem het, gesê hulle gaan nie sy kontrak hernu nie.

NBA-bronne het aan die skinderwebtuiste gesê Clippers-spanbeamptes wil Lamar terughê omdat sy spel hulle die vorige seisoen beïndruk het, maar hulle kon hom nie in die hande kry nie. Ná berigte dat hy ’n dwelmprobleem het, het hulle die voormalige Los Angeles Lakers-ster Antawn Jamison (37) genader en dus is daar nie meer plek vir Lamar nie.