Die Keeping Up with the Kardashians-ster is woedend oor stories dat haar man van vier jaar, Lamar Odom (33), haar met twee vroue verkul het. Sy het hom nou glo gewaarsku sy gaan hom los as nog sulke stories opduik.

’n Vriend van Khloé (29), wat glo R180 miljoen sterk is, het aan die tydskrif Life and Style gesê Khloé voel “verneder en kwaad” oor beweringe dat Lamar tot Maart vanjaar ’n jaar lange verhouding met Jennifer Richardson gehad het en in die begin van die somer ook ’n ses week lange verhouding met die prokureur Polina Polonsky.

Die bron het gesê Khloé en Lamar, wat na raming R560 miljoen uit sy basketballoopbaan van 14 jaar gemaak het, se huweliksvoorwaardekontrak dek affairs. Volgens dié klousule sal sy, as hy haar verneuk, R5 miljoen kry vir elke jaar dat hulle getroud was.

Die bron het bygevoeg: “Met twee minnaresse wat op die lappe gekom het, kan sy nie veel meer hanteer nie. As nog vroue na vore kom, sal sy skei.

“Al is Khloé sterk, het die gerugte oor ontrouheid haar werklik ondergekry.”

Khloé se ma, Kris Jenner, het vroeër ontken Khloé is besig met voorbereidings vir ’n egskeiding.

Sy het onlangs gesê: “Khloé en Lamar gaan vir seker nie skei nie. Daar is geen sprake van ’n egskeiding nie.”

Ander bronne na aan die paartjie, wat getroud is net ’n maand nadat hulle begin uitgaan het, het ook gesê Khloé het nog nie met ’n egskeidingsprokureur gepraat nie.