Kevin Jonas sê hy is opgewonde en bang noudat sy vrou, Danielle Deleasa, hul eersteling verwag.

Die Jonas Brother (25) het aan E! News gesê: “Ek is in die wolke. Dis die opwindendste gebeurtenis nog in my lewe. Ek is opgewonde en senuagtig.”

Die twee is in Desember 2009 getroud. Danielle (26) het al voorheen verklap haar familie plaas druk op hulle om met ’n gesin te begin. Sy het gesê: “Kinders is op die oomblik die groot vraagstuk; dit word baie bespreek.”

Kevin het bygevoeg: “Ons is nou by die driejaarmylpaal en mense vra goed soos: “Oukei, ouens, wat is jul plan? Wanneer word daai kleinkinders gebore?’ Ek begin nogal ’n bietjie onder druk voel.”

Die sanger het ook vertel hul werklikheidsprogram, Married to Jonas, is soos terapie. “Die ander aand het ons stry gekry. Soms sê jy dinge wat jy nie noodwendig bedoel nie of wat verdraai kan word. Dit was beslis ’n oomblik van selfsug, maar eindelik kan jy terugkyk en dink: Sjoe. Wens jy nie jy’t ook die opsie gehad om terug te gaan na jou rusies en te sien wie was eintlik verkeerd nie?”