Die weduwee van ’n kettingroker wat aan longkanker oorlede is, het R251.6 biljoen vergoeding ontvang van die maatskappy wat sy sigarette vervaardig het.

Cynthia Robinson het RJ Reynolds Tobacco aangevat, wat Camel- en Winston-sigarette vervaardig, nadat haar man, Michael Johnson, in 1996 op 36 oorlede is.

Tydens die vier weke lange verhoor het Cynthia se prokureurs beweer RJ Reynolds Tobacco was nalatig; hulle het nie verbruikers genoeg gewaarsku oor die gevare van tabak nie en het dus gelei tot Michael se longkanker.

Hulle het gesê Michael het aan sigarette “verslaaf” geraak en het verskeie kere sonder sukses probeer ophou rook.

Die jurie in die saak het ná 15 uur beraadslaging ’n uitspraak gelewer.

“RJ Reynolds het ’n berekende risiko geneem deur sigarette te vervaardig en dit aan verbruikers te verkoop sonder om hulle ordentlik van die gevare in te lig,” het Cynthia se prokureur Willie Gary in ’n verklaring gesê.

“As gevolg van hul nalatigheid het my kliënt se man longkanker opgedoen en later sy lewe verloor.

“Ons hoop hierdie uitspraak gaan ’n boodskap aan RJ Reynolds en ander groot tabakmaatskappye stuur wat hulle gaan dwing om nie meer onskuldige mense se lewe in gevaar te stel nie.”

RJ Reynolds beplan om appèl teen die hof se uitspraak aan te teken.

’n Woordvoerder vir die maatskappy het gesê die opspraakwekkende uitspraak was “ver buite die grense van redelikheid en regverdigheid”.