Is die feestyd, ’n tyd vir samesyn met familie en vriende, vir eet en drink, en gee en ontvang – ook vir die akteurs wat die Forrester-familie en die res van The Bold and the Beautiful se karakters uitbeeld.

Ons het ’n paar van die mense wat ons jaar ná jaar voor ons skerms vasgenael hou, opgespoor en oor Kersfees en hul planne daarvoor uitgevra. En almal was heel gewillig om daaroor te gesels, behalwe Brooke oftewel Katherine Kelly Lang. Sy het al vroegtydig vir die feestyd saam met haar gesin na Argentinië vertrek.

‘‘Ek was die afgelope paar jaar so besig in die Kerstyd dat ek ’n vakansie ná my vakansie nodig gehad het,’’ het sy onlangs gesê. ‘‘My program was propvol en die vakansie het omgevlieg. Ek het in Utah gaan ski en aan ’n 80 km lange perderesies in die Death Valley in Kalifornië deelgeneem. Ek het heeltyd soveel gehad om te doen, veral met Kersfees en die afrigting van my perd. Ek moet net nou ’n bietjie van alles wegkom.’’

Lees wat die res van die Bold-span te vertel gehad het.

RONN MOSS (Ridge)

Wat beteken Kersfees vir jou? Om tyd saam met my kinders deur te bring en hulle te leer

dit gaan nie net oor hoeveel geskenke hulle kry nie. Dit gaan oor die gees van gee, samesyn met die familie en dankbaarheid vir alles wat ’n mens het.

Wat is jou gunsteling-Kerstradisie? Wanneer ons in die buurt met ons akoestiese kitare en ’n klomp sangers rondstap en by elke huis Kersliedere sing.

Jou mooiste Kers-herinnering? Ek was vier jaar oud en het alleen met die trap afgeklim om te gaan kyk wat daar vir my onder die Kersboom wag. Daar was een klein geskenkie op ’n stoel om oop te maak voor die res van die gesin ondertoe kom. Dit was ’n klein opwen-helikoper en dit was drie jaar lank my gunsteling-speelding.

As geld geen kwessie was nie, wat sal jou ideale Kersgeskenk wees? Om in ’n posisie te wees waar geld nie meer ’n kwessie is nie!

Hoe gaan jy vanjaar Kersfees vier? Ek gaan dit saam met my gesin in Italië deurbring.

Het die wêreldwye resessie jou twee keer laat dink of jy hope geskenke vir jou geliefdes moet koop? Ja. Ons het afgeskaal tot amper niks.

Watter raad kan jy vir mense gee wat vanjaar die gordel stywer moet trek? Hulle moet besef hulle is nie alleen nie; ons moet dit almal doen. Daar is ’n lig aan die einde van die tonnel – en dis nie ’n trein nie!

Lees wat Bold se Bridget, Eric, Thorne, Owen en Jackie te sê gehad het in Huisgenoot van 24 Desember.