’n Brand het in ’n kinderhuis op Bethlehem in die Oos-Vrystaat ontstaan nadat kinders kerse gebruik het vir lig weens beurtkrag, berig Netwerk24.

Die brand het Maandagaand omstreeks 19:30 in Huis Eikehof, ’n deel van die Charlotte Theron-kinderhuis, se televisiekamer ontstaan.

Volgens Netwerk24 moes 12 laerskoolmeisies, wat besig was om hul huiswerk te doen, inderhaas uit die brandende gebou ontruim word.

Hulle het kerse tydens beurtkrag gebruik toe een van die dogters met ’n kers die eetsaal verlaat om iets in die TV-kamer te gaan haal.

Hier het sy na bewering die kers vergeet en op die een of ander manier het die brand begin.

Niemand is beseer nie.

Bron: Netwerk24