Kerry Washington voel nie beledig oor gerugte dat sy ’n lesbiër is nie en glo mense maak dinge oor haar op omdat hulle gefrustreerd is met die feit dat sy weier om oor haar persoonlike lewe te praat.

Die ster van The Fixer, wat haar eersteling by haar man van vier maande, die voetbalster Nnamdi Asomugha verwag, glo die bespiegeling oor haar seksualiteit is omdat sy selde oor haar persoonlike lewe praat.

“Dis interessant hoe mense gapings wil invul as iemand in die openbare oog nie hul persoonlike lewe deel nie. Ek verstaan hul frustrasie,” het die 36-jarige aktrise aan die tydskrif The Advocate gesê.

“Ek is mal daaroor hoe mense foto’s sal publiseer van my waar ek ander vroue wat ek bewonder omhels en dan sal sê: ‘Sien?’ Is ons so ongemaklik oor liefde tussen twee mense van dieselfde geslag dat ons dit dadelik as seksueel moet bestempel? Maar die lesbiër-gerugte het my nog nooit gepla nie. Daar is niks beledigend daaromtrent nie en dus geen rede om beledig te voel nie.”

Die aktrise is ’n groot ondersteuner van gelyke huweliksregte en is trots op die feit dat daar ’n gay paartjie – die joernalis James Novak en die personeelhoof Cyrus Beene – in The Fixer is.

“Iets wat my baie gelukkig maak, is die wete dat The Fixer se Afro-Amerikaanse gehoor aan karakters soos James en Cyrus blootgestel word. Dis baie opwindend dat miljoene kykers elke week dié ongelooflike, ingewikkelde paartjie se lewe en hul gay-huwelik en ervaring met aanneming kan meemaak, omdat dit so ’n belangrike storielyn in die reeks is.”