Kerry Washington verwag haar eerste kind.

Daar is weke lank gegis oor die aktrise se boepmagie, wat sy onder lospassende klere probeer wegsteek het. ’n Vriendin van die ster het nou aan die tydskrif Us Weekly gesê Kelly is vier maande swanger.

Kerry (36) en Nnamdi Asomugha (32) is al sedert verlede jaar saam. Hulle is in Junie in die geheim in Hailey, Idaho, getroud.

Kerry en die San Francisco 49ers-voetbalspeler het ’n lae profiel tydens hul verhouding gehandhaaf. Dis onwaarskynlik dat sy ’n groot aankondiging oor haar swangerskap sal maak.

Sy het onlangs aan die tydskrif Glamour vertel sy het “deur ervaring geleer” dit “werk nie” vir haar om oor haar persoonlike lewe te praat nie. Sy wou ook niks oor haar troue sê nie.

Kerry, wat voorheen verloof was aan die akteur David Moscow (38), het gesê: “Ek dra my ring en wanneer mense my gelukwens, sê ek dankie. Maar ek gaan nie aanhou om daaroor te praat nie.”