Elfuur op ’n Maandagoggend is die ZAR-nagklub nog aan die herstel van die vorige aand se partytjie.

Bespreek vir Skouspel!

Stadig maar seker skud die boonste verdieping van die Radisson Blu-hotel in Sandton sy vere reg vir nog ’n dag van dans, duur drank, sexy meisies, kort rokkies, hoë hakke, funky musiek en . . . allesbehalwe soesji wat van halfkaal modelle geëet word.

Van al die geregte is die een waarvoor Kenny Kunene (40), die klub se eienaar en onbetwiste partytjiekoning van Suid-Afrika, beroemd – of dalk berug – geraak het, nié op hul spyskaart nie.

Maar die man wat Cosatu en die ANC-vroueliga warm onder die kraag het oor sy uitspattige partytjies waar soesji van modellywe af geëet word, is nêrens in die goud-silwer-rooi-en-pers interieur van sy klub te sien nie.

“Hy rus ’n bietjie,” sê Kieran Lindeque (23), bestuurder van ZAR (dit staan vir Zuid-Afrikaanse Rand) in Sandton, wat verlede Junie geopen het.

By die ingang staan ’n enorme goue voëlkou met ’n paar diamant-beplakte Jimmy Choo-skoene daarin. Teen die mure hang TV’s so plat soos skilderye en almal is op Fashion TV ingeskakel.

Vir een aand kan jy die BBP-seksie huur teen R5 000 of as jy regtig wil uithang, is die BBBP-seksie joune teen net R25 000.

Daar kan jy ’n gordyn tussen jou en die res van die dansendes toetrek en op ’n massiewe bed heelnag jou gaste sjampanje voer. Kenny se kliënte is meestal ryk sakemanne, politici en glansmense.

Selfs internasionale sangers soos Shakira, Alicia Keys, John Legend, die DJ Swizz Beatz en MC Hammer het al by die klub oorkant die Gautrein-stasie kom partytjie hou.

Kort voor twee die middag stap ’n korterige kaalkopman, dié slag sonder sy donkerbril, die klub binne, koerant onder die arm. “Ek wil nie op bladsy 40 wees nie, oukei, dit moet ’n groot storie wees,” dring die voormalige wiskunde-onderwyser aan met ’n stout laggie in sy oë.

Maar Kenneth Thapelo Kunene was nie net ’n onderwyser nie; hy het ook al agter die tralies beland. Eers is hy in die 80’s op 16 toegesluit oor sy politieke aktiwiteite. En in 1997 is hy ses jaar tronk toe gestuur vir bedrog.

Daar het hy pelle gemaak met Gayton McKenzie en die twee het videomateriaal opgeneem van hoe korrupte tronkbewaarders jong seuns vir R10 per keer aan die ouer gevangenes verkoop as bedmaats. Die Jali-kommissie is aangestel om dit te ondersoek.

Kenny was toe ’n teemaker in die tronk, waarmee hy R22 per maand verdien het, en die tronkbewaarders het hom aangesê om die manne van die Jali-kommissie se tee te vergiftig, vertel hy. So nie, sou hulle hom doodmaak.

“Daardie 30 meter wat ek na hulle toe moes loop met die tee, was die langste in my lewe.”

Maar Kenny kon dit nie doen nie. Vir byna ’n jaar hierna het hy baie swaargekry in die tronk. “Dis nie omdat ek slim was dat ek oorleef het nie; dit was net genade van God,” sê Kenny. “Jesus Christus is my Redder. Ek sou nêrens gekom het as dit nie vir die genade van God was nie.”

Hy is lid van die Episkopaalse Kerk en gaan elke jaar met sy verjaardag terug na die kerk in Witbank waar hy ’n diens bywoon en ’n groot partytjie vir die kinders hou. Hy haal graag Romeine 8:28 aan waar staan dat alles ten goede sal meewerk vir dié wat in God glo. Hy glo in die krag van gebed, sê hy.

Die bewaarders het ’n wrok teen hom gehad en hy kon niks vertrou wat hulle hom gee om te eet nie. “Ek moes kos op ander maniere kry.”

Vandag is hy en Gayton vennote en bloedbroers wat hul geld gemaak het deur mynregte vir sakemanne te beding.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot, 17 Februarie 2011.