So voorspel ’n verslag deur die Sentrale Energiefonds en die plaaslike motoristevereniging AA. Die goedkoper petrol is danksy die rand wat die afgelope ruk versterk en daarin geslaag het om die stygende olieprys te troef, verduidelik Layton Beard, ’n woordvoerder van die vereniging, aan Huisgenoot. Petrol sal na verwagting sowat 69c goedkoper wees per liter, terwyl ’n liter diesel sowat 94c goedkoper sal wees.

“Die rand het aan die begin van Augustus heelwat teen die Amerikaanse dollar verstewig,” sê hy. “Tog het buitelandse brandstofpryse ook in dié tyd skerp gestyg. Gelukkig is die rand die brandstofpryse een voor en dui ons inligting daarop dat pryse teen einde Augustus wel sal daal solank die rand aanhou om die brandstofprys te uitoorlê.”

Intussen het stakende werknemers by olieraffinaderye ’n ooreenkoms met hul werkgewers bereik en is die staking, wat sowat drie weke geduur en enkele binnelandse vulstasies sonder brandstof gelaat het, verby.

Layton sê motoriste kan die gat troef wat brandstofpryse in hul begroting brand deur die roete wat hulle moet ry vooraf na te gaan.

“So kan jy sorg dat jy nie onnodige draaie ry nie en seker maak waar vulstasies geleë is en jou brandstofverbruik beplan.”

Hy stel ook voor dat motoriste so ver moontlik swaar verkeer vermy omdat stilhou-en-wegtrek-verkeer brandstofverbruik verhoog. “As jy kan, ry vroeër of later werk toe en terug. Onthou ook dat lugverkoeling en swaar bagasie soos ’n karavaan of sleepwa meer brandstof verbruik.”

Hy raai motoriste aan om hul motor gereeld te laat versien omdat afgeleefde bande en enjins ook brandstofverbruik laat toeneem.