’n Span van 70 kenners het Vrydag lyke begin terugkry op Vlug MH17 se ongelukstoneel in die oorloggeteisterde ooste van die Oekraïne, sê Nederland se departement van justisie.

“Nederlandse en Australiese kenners het Vrydagoggend op die toneel aangekom. Die 70 kenners gaan soekoperasies op verskeie plekke op die ongelukstoneel uitvoer,” sê die departement in ’n verklaring.

“Ná Donderdag se verkenning kon ons nou ons kenners op die toneel kry,” sê Pieter-Jaap Aalbersberg, die Nederlandse polisiebeampte wat na die Oekraïne gestuur is om met die sending te help.

“As hulle tydens die soektog op menslike oorskot afkom, gaan dit onmiddellik (van die toneel) verwyder word,” het hy gesê.

Pogings om die oorblywende lyke van die toneel te verwyder is bemoeilik deur gevegte tussen Oekraïense weermag en Russiesgesinde separatiste.

Meer as 200 kiste is al gestuur na Nederland, wat 193 burgers in die ongeluk op 17 Julie verloor het, maar weens die gevegte is daar nog baie lyke wat steeds opgespoor moet word.

- Sapa