'Dis te verstane dat hy gehuil het.'

“Dis te verstane dat hy gehuil het. Maar die probleem is dat hy aanhoudend sy weergawe verander het. Ek dink hy was eintlik ’n goeie staatsgetuie,” sê Mannie Witz, ’n advokaat by die Bridge-groep.

“Die verdediging het hul saak baie goed beredeneer, maar hul kliënt het hulle in die steek gelaat, want hy was nie ’n goeie getuie nie.”

Mannie sê Oscar moes gehou het by die weergawe wat hy tydens sy aansoek om borgtog gegee het. In daardie stadium het hy gesê hy het gedink daar is ’n inbreker agter die toiletdeur van sy huis in Pretoria toe hy daardeur skiet.

Op 14 Februarie 2013 het hy vier skote geskiet en so sy meisie, Reeva Steenkamp, ’n model met ’n graad in die regte, doodgeskiet.

Die staat sê die moord was voorbedag. Masipa begin haar uitspraak Donderdag in die hooggeregshof in Pretoria.

Toe die verhoor op 3 Maart begin, het Oscar onskuldig gepleit op die klag van moord en drie klagte wat met vuurwapens verband hou.

Kelly Phelps, ’n senior lektor aan die Universiteit van Kaapstad, sê die verdediging het hulle goed van hul taak gekwyt om “die verskillende drade van getuienis in ’n samehangende verhaal saam te trek”.

“Met die lees van die betooghoofde wat aan die einde van die verhoor ingedien is, dink ek hulle het die doel van elke getuie se getuienis baie duidelik beklemtoon,” sê sy.

“Op grond van die hoofde dink ek daar is ’n goeie kans dat hulle aan die bewyslas voldoen het en leemtes in die staat se saak uitgelig het.” Steenkamp-familie Reeva se oom Michael Steenkamp sê die familie sal Donderdag in die hof wees.

'Ons sal daar wees om te kyk wat gaan gebeur.'

“Ons sal daar wees om te kyk wat gaan gebeur. Wat die uitslag ook al is, die Here weet presies wat die antwoord is,” het hy Maandag gesê.

“Dit gaan nie goed met die familie in hierdie angstige tydperk nie en ons wag net dat dit nou verbygaan. Ons laat dit in die Here se hande.”

Mannie en Kelly sê die uitspraak sal na Vrydag oorloop weens die lengte van die transkripsie en die aantal klagte.

Mannie sê Masipa sal die getuienis van die 37 getuies hersien en verduidelik waarom sy dit aanvaar of verwerp.

Al is Oscar net weens moord aangekla, is strafbare manslag ’n moontlike alternatief, sê Kelly.

Mannie sê daar is geen omskrywing van voorbedagte moord in Suid-Afrika nie, maar volgens die uitspraakreg sal dit moord wees met ’n mate van beplanning.

Ten einde dit te bewys, sal die hof waarskynlik moet bevind dat die staat se weergawe, dat Oscar en Reeva gestry het, waar is.

Om hom aan moord skuldig te bevind sal die hof moet bevind dat Oscar onwettig opgetree het en bedoel het om moord te pleeg.

Om Oscar aan strafbare manslag skuldig te bevind, sal die hof moet bevind daar was nalatigheid in die moord.

Assesore

Tydens die verhoor het twee assessore, Themba Mazibuko en Janette Henzen-du Toit, die regter bygestaan.

Kelly sê die assessore help feitevrae vasstel en nie dispute oor die vertolking van regsreëls en presedent nie. Hulle het nie inspraak in die vonnisoplegging nie, maar het ’n prominente rol in die uitspraak.

“Hulle kan hoe regter Masipa die feite verstaan, tersyde stel. Met ander woorde, as sy dink die getuienis ondersteun die een uitslag en hulle dink albei dit ondersteun die ander uitslag, stel hulle haar weergawe ter syde. Maar in regsvrae het hulle geen inspraak nie.”

Nie Kelly of Mannie wou hul mening uitspreek oor watter vonnis Oscar waarskynlik sal kry as hy skuldig bevind word nie.

“Myns insiens sal net ’n baie arrogante en onetiese prokureur sê wat waarskynlik sal gebeur, want dit sal wees om in ’n regter se skoene te staan, wat ’n prokureur nooit moet doen nie,” sê Kelly.

Oscar word ook aangekla weens drie oortredings van die Wet op Vuurwapenbeheer – een vir die onwettige besit van ammunisie en twee vir die afvuur van ’n vuurwapen op ’n openbare plek.

- Sapa