Die ballistiese kenner Thomas Wolmarans, ’n getuie vir die verdediging, het gesê Reeva kon nie op die toilet gesit het toe die skote geskiet is nie.

“Die oorledene het nie op die toilet gesit nie. Haar broek was opgetrek en die skoot is deur die broek afgevuur,” het hy gesê.

Die Paralimpiese atleet beweer hy het Reeva vir ’n inbreker aangesien toe hy haar in sy luukse huis op die Silver Woods-landgoed skiet.

Hy het haar deur ’n geslote toiletdeur geskiet en haar in die heup, arm en kop getref. Hy staan tereg weens haar moord.

Oscar staan ook tereg op aanklagte van die oortreding van die Vuurwapenbeheerwet. Hy word aangekla van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie, en die roekelose skiet van ’n vuurwapen in die openbaar.

Hy pleit onskuldig op alle aanklagte.

Volgens Thomas kan ’n nog kenner ’n ander weergawe gee van wat daardie aand in die huis in Pretoria gebeur het.

Regt. Thokozile Masipa en haar twee assessore het vroeër ’n toiletvertrekkie ondersoek wat in hof GD opgerig is.

Die aanklaer, Gerrie Nel, het die regter genooi om die vertrekkie te ondersoek voor hy sy kruisondervraging van Thomas begin.

Daar het laserstrale deur die koeëlgate in die deur geskyn. Die uitstalling moes die trajek van die koeëls help aandui wat Oscar deur die deur geskiet het.

Die hofsaak duur voort.

- Sapa