In sy getuienis in die hooggeregshof in Pretoria het Thomas saamgestem met die getuienis van kapt. Chris Mangena, ’n ballistiese kenner vir die polisie.

Thomas het tog verskeie verskille uitgewys tussen sy bevindinge en die staat s’n.

Hy het gemeen die koeëls wat Reeva in die heup getref het, het nie haar liggaam verlaat nie. ’n Deel van die koeël wat haar in die kop getref het, word vermis, maar dit kan deel wees van die fragmente wat op die toneel gevind is.

Thomas het ook die moontlikheid bevraagteken dat ’n opslagkoeël Reeva getref het en toe in die toiletbak beland het.

Oscar beweer hy het Reeva vir ’n inbreker aangesien toe hy haar skiet. Hy het haar deur ’n geslote toiletdeur geskiet en in die heup, arm en kop getref. Hy staan tereg weens haar moord.

Thomas het gesê hy het ’n koeëlfragment in Oscar se toiletbak gekry wat ondersoekers misgekyk het, en dit aan die polisie oorhandig.

Hy meen ’n akkurate bepaling van die volgorde van die skote of die posisie van Reeva se liggaam toe sy geskiet is, is onmoontlik.

Oscar staan ook tereg op aanklagte van die oortreding van die Vuurwapenbeheerwet. Hy word aangekla van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie, en die roekelose skiet van ’n vuurwapen in die openbaar.

Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte.

Nadat adv. Barry Roux sy ondervraging afgehandel het, het die hof kortliks verdaag voor die aanklaer, Gerrie Nel, Vrydagoggend sy kruisondervraging begin.