Die beslissing in die Oscar Pistorius-hofsaak is nie goed beredeneer nie en kan op ’n regsvraag geappelleer word, het ’n regskenner Vrydag gesê.

“In my mening is daardie beslissing nie baie goed beredeneer nie en ek dink ook nie dit sal grondwetlike ondersoek uitstaan nie,” het die regsdosent aan die Universiteit van die Witwatersrand James Grant gesê.

Maar die staat kan voor ’n “struikelblok” te staan kom weens die appèlhof-saak staat t. Seekoei, wat die staat se appèlreg beperk.

Die 1982-saak hou voor dat die staat nie kan appelleer as ’n skuldigbevinding op ’n bevoegde uitspraak gemaak is nie.

“Dit (die uitspraak in Oscar se saak) was ’n bevoegde uitspraak; hy is van moord vrygespreek en op ’n bevoegde uitspraak skuldig bevind,” het James gesê.

As die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) die Seekoei-probleem kan oorkom en die geleentheid kry om te appelleer, kan daar een van twee uitkomste wees.

“Die kwessie is of die appèl in die appèlhof tot die rekord beperk is – en dit is my voorkeur; dit is net reg en regverdig – oor of dit na ’n ander hooggeregshof teruggestuur word sodat die saak heeltemal herverhoor kan word.

“Dit (’n herverhoor) is nie moontlik nie,” het hy gesê.

James het gesê die aanklaer in die saak, Gerrie Nel, het hom om raad genader oor of die staat moet appelleer.

“Ek kan bevestig dat adv. Nel my om raad genader het, sou hy appelleer. Ek het aangeraai dat hy moet appelleer en het ingestem dat ek hom sou bystaan,” het hy getwiet.

Hy het gesê Gerrie en die NVG moet nog besluit of hulle wil appelleer.

“Natuurlik word baie ander mense ook geraadpleeg en baie dinge in ag geneem,” het hy in ’n ander twiet gesê.

Vroeër het die NVG gesê hulle moet nog besluit of hulle sal appelleer.

Ná Oscar se vonnisoplegging Dinsdag het die NVG gesê daar is ’n begeerte na ’n appèl op die vonnis van vyf jaar.

“Daar is ’n begeerte om te appelleer; ons het 14 dae om die wet te oorweeg en te verseker die feite en wet laat ons appelleer,” het die NVG-woordvoerder Nathi Mncube gesê.

Op dieselfde dag het die hoof van die NVG, Mxolisi Nxasana, aan die parlement gesê hy sou Oscar se vonnis, en ’n moontlike appèl, met aanklaers bespreek.

- Sapa