Maar dit moet iemand se lewe ontwrig voor dit as ’n steuring beskou word, het die forensiese sielkundige Meryll Vorster tydens haar kruisondervraging deur adv. Gerrie Nel gesê.

“Angs is ’n baie algemene verskynsel. Dié toestand (algemene angssteuring) kom ook baie algemeen voor,” het sy gesê.

“Om dit tot ’n steuring te verhef moet die persoon vir ’n lang tydperk meermale aan angstigheid ly.”

Sy het gesê so iemand sal situasies ernstiger ervaar as wat dit werklik is. Dit kan lei tot slaapsteurings, braking, diarree en swak konsentrasie.

Die Paralimpiese atleet staan tereg weens moord nadat hy sy meisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag verlede jaar deur ’n geslote deur in sy huis in Pretoria geskiet het.

Oscar pleit onskuldig en beweer hy het Reeva vir ’n inbreker aangesien wat hom wou aanval. Die staat voer aan hy het haar midde-in ’n rusie geskiet.

Toe hofverrigtinge begin, het Gerrie genoem hy wil terugkeer na wat hy Maandag bespreek het: die moontlike aansoek dat Oscar vir sielkundige waarneming verwys word.

“Vandag doen ons iets anders, maar ons sal weer daaroor praat,” het hy gesê. Hy het Meryll weer uitgevra oor die diagnose en of dit Oscar se algemene funksionering beïnvloed. Hy het ook gevra of dit ’n uitwerking op alle aspekte van sy lewe sou hê. “Ja, U Edele; dit is hoekom dit ’n steuring is,” het sy geantwoord.

'Met ’n angssteuring kan mense nie hul angs bedwing nie.'

“Met ’n angssteuring kan mense nie hul angs bedwing nie.”

Gerrie het ook gevra oor die grade van erns van die steuring. Meryll het geantwoord dat elke steuring grade het, maar wat syne is, is nie tydens haar diagnose bepaal is nie. Gerrie het gevra of dit ernstig genoeg is om as ’n geestesiekte beskou te word.

“Ek sou nie dit sê nie. As ’n mens ’n ernstige algemene angssteuring het, kan dit jou vermoë beïnvloed om normaal te lewe,” het sy gesê.

“Jy kan sê dit is ’n geestesiekte, maar jy moet kyk na die uitwerking wat die siekte op die individu het.”

Sy het gesê lyer kan onkapabel raak weens al die voorbereidings wat hy moet tref om normaal met sy lewe voort te gaan, byvoorbeeld om werk toe te gaan. Oscar was nie onkapabel nie; hy kon steeds as ’n atleet op ’n hoë vlak meeding en kon sosialiseer, maar hy het spanning ervaar, het Meryll gesê. Gerrie het Meryll gevra hoekom Oscar se vriende en sy eksmeisie Samantha Taylor, wat vir die staat getuig het, nooit genoem het dat hy angstig was nie.

'Die meeste mense beheer en verbloem hul angs.'

“Die meeste mense beheer en verbloem hul angs. Mnr. Pistorius en sy gesin het nie geweet hy het ’n angssteuring nie.”

Reeva se ma, June, was Dinsdag in die hof. Sy het in die voorste ry van die openbare galery gesit. Aan die ander kant van dieselfde ry was die Pistoriusse, onder wie Oscar se broer, Carl, suster, Aimée en oom Arnold.