Ons Superma’s het onlangs lekker gesels oor of dit aanvaarbaar is om iemand anders se kind te dissiplineer of nie.

Van julle meen die ou beginsel van “my huis, my reëls,” geld en dat jy jou stem sal dik maak as ’n kind hom wangedra wanneer hy onder jou toesig is. Ander voel weer slegs die ouer het die reg om ’n kind se gedrag aan te spreek, en dat dit disrespekvol is om iemand anders se kind te wil tug.

Doktor CP de Jager, ’n opvoedkundige sielkundige van Vanderbijlpark, gee sy mening.

- Mag ek met iemand anders se kind raas?

“My standpunt is dat volwassenes altyd ‘n opvoedkundige plig het teenoor hul familie of vriende se jonger kinders.”

- Maar wat behels dissipline?

“Dit hang af wat ’n mens onder dissipline bedoel; teregwysing en goeie opvoedkundige leiding is nooit verkeerd nie.”

- Lyfstraf?

“Met dissipline sal dit vir my totaal onaanvaarbaar wees as ’n persoon bv. ’n ander persoon se kind lyfstraf gee, maar goeie opvoedkundige kommentaar is altyd ’n possitiewe bydrae.

“As ’n mens dissipline sien in die sin van opvoeding dan sê ek ja, jy het wel ’n opvoedkundige plig het teenoor ander jong kinders.”

- My huis, my reëls?

Wanneer maats by jou in jou huis kom kuier, dan geld jou reëls. Ek het 3 kinders groot gemaak wat vandag al volwassenes is, en hulle vriende was altyd welkom in ons huis, maar hulle het by my huisreëls ingeval, en dieselfde het gegeld as my kinders by vriende gaan kuier het; hulle val by daardie huis se reëls in.”

- Hoe raas ek regverdig?

“Die teregwysing moet gepaard gaan met die regte gesindheid. As ’n mens dit met ’n possitiewe gesindheid doen en jou opvoedkundige doelstellings duidelik maak, dan kan ek niks verkeerd daarmee sien dat jy jou opvoedkundige plig teenoor iemand anders se kinders nakom nie.”