Die slanke 19-jarige model het tot onlangs meestal in haar beroemde ousus met die kurwes se skadu geleef, hoewel sy ook in die treffer-werklikheidsreeks Keeping Up With the Kardashians gesig wys.

Maar Kendall het haar skoonheid en gewildheid op sosiale media – waar sy meer as 10 miljoen aanhangers het – slim ingespan en nou lyk dit of sy goed op dreef is om selfs haar suster verby te steek.

Kendall, wat besig is om vinnig naam te maak as een van ’n nuwe generasie supermodelle, se opgang is vandeesweek gekroon met die aankondiging dat sy die nuwe gesig van die skoonheidsreus Estee Lauder is – iets wat haar sterstatus beslis gaan help verhoog.

“ ’n Kontrak met ’n skoonheidshuis is seldsame, gesogte werk in die modelbedryf,” sê Sara Ziff, stigter van die agentskap Model Alliance. “In ’n bedryf waar modelle gratis werk, en hul salaris vir prestige en sigbaarheid opoffer, is hierdie soort kontrakte uiters winsgewend en help ’n model om naam te maak.”

Met hul keuse van Kendall maak Estee Lauder geen geheim daarvan nie dat hulle hul verkope en groei ’n hupstoot wil gee deur jonger klante te teiken. “Kendall is die toonbeeld van ’n ‘Insta-girl’ en ons is opgewonde om haar beeld, stem, energie en ongelooflike mag op sosiale media te gebruik om Estee Lauder aan miljoene jong vroue die wêreld bekend oor te stel,” sê Jane Hertzmark Hudis, die skoonheidsreus se wêreldwye handelsmerkhoof, in ’n verklaring.

Van informele kiekies van haar in ’n Halloween-kostuum saam met haar pel die Britse model Cara Delevingne tot ’n selfie saam met die popster Justin Bieber – Kendall mis nooit ’n kans om iets met haar miljoene aanhangers op sosiale media te deel nie.

Sy het altesaam 32,3 miljoen aanhangers op onderskeie platforms, insluitend 15,9 miljoen op Instagram, 9,1 miljoen op Twitter en 7,3 miljoen op Facebook. Estee Lauder beskryf Kendall se aanlyn teenwoordigheid as “verstommend”.

“Kendall is ’n moderne skoonheid wat ’n nuwe generasie vroue verteenwoordig wat wenke oor skoonheid, mode en die lewe 24 uur per dag op hul eie manier deel,” sê Jane.

Die kontrak met Estee Lauder volg op ’n jaar waarin Kendall as ’n loopplankster ontpop het, nadat sy in Februarie in ’n deursigtige top by Marc Jacobs se modevertoning in New York die koppe laat draai het. Ná dit het loopplankverskynings vir Chanel, Balmain, Dolce & Gabbana en Fendi, asook ’n hoëprofiel-advertensieveldtog vir Givenchy, gevolg.

Haar sukses het ook tot suur druiwe gelei. Daar is verskeie berigte dat van haar susters jaloers is op haar sukses. Kendall het intussen ontken dat haar roem aan haar familienaam te danke is. “Ek het in werklikheid baie hard hiervoor gewerk; ek het rondgehardloop en toetse gedoen,” het sy aan ABC gesê. “Dit was nie asof ek dit net oornag reggekry het nie.”

Kendall het selfs besluit om nie meer haar van te gebruik nie, en verkies om net op haar voornaam genoem te word. Sy het ook ’n ooreenkoms aangegaan met Kim, wat met die rapper Kanye West getroud is, dat sy nie haar modevertonings mag bywoon nie. “Dit is ’n bietjie sterk gestel om te sê sy’s verbied; dit is meer van ’n wedersydse verstandhouding,” sê Kendall. “Ek dink as my suster in die voorste ry sit, gegewe wie sy is – en ek weet dit klink vreemd – sou dit die helfte van die aandag wegvat van wat ek op my eie probeer doen.”

Die kenners meen dit was ’n slim besluit deur Estee Lauder om Kendall as woordvoerder te kry. “Dit dui op die opgang van sosiale media as ’n belangrike verspreidingsplan,” sê Roger Kay, ’n ontleder by Endpoint Technologies Associates.  “Soos die media na die internet verskuif en sosiale media nou tradisionele media word, is dit hoe die sterre van die toekoms bepaal sal word.”

- Prune Perromat