Kate Middleton is die eerste nie-koninklike wat in meer as 300 jaar met ‘n Britse prins trou.

Haar ouers is deesdae skatryk sakelui, maar Michael en Carole Middleton se familiewortels is heel beskeie vergeleke met die bloubloed-William.

Michael is op 23 Junie 1949 in Leeds, Engeland, gebore. Sy ouma, Olivia, was ‘n lid van die Lupton-familie wat vir generasies by sake en munisipale werk betrokke was.

Sy ander voorsate sluit Thomas Davis in, ‘n bekende gesangeskrywer van die Kerk van Engeland.

Carole is op 31 Januarie 1955 gebore in Middlesex. Haar familie was arbeiders uit die werkersklas en myners en sy was in haar jong dae ‘n lugwaardig – iets waaroor syself en die Britse media graag skerts.

Maar al kom die Middletons nie uit bloubloed-families nie, het hulle baie goed gevaar as sakelui. Hulle het miljoenêrs geword uit hulle posbestelling-onderneming, Party Pieces, wat partytjie-bykomstighede verkoop.