Duitse Masels (Rubella)

Wie?

Meestal skoolkinders. By jonger kinders kan die siekte ongemerk verbygaan.

Wat is die simptome?

Die uitslag kan net skielik daar wees of verskyn ná twee dae van olikheid en ’n seer keel. Klein, plat, pienk kolletjies verskyn op die gesig en versprei dan vinnig na die lyf en ledemate. Teen die volgende dag smelt die kolle saam en vorm ’n rooi gebied, wat gewoonlik teen die derde dag weggaan. Die limfkliere agter die kop en aan die bokant van die nek is vergroot en gevoelig.

Hoe moek jy maak?

Geen spesifieke behandeling is nodig nie. Die grootste gevaar is vroeg in ’n swangerskap wanneer die fetus aangetas kan word.

Hand-voet-en-mondsiekte

Wie?

Gewoonlik babas of kinders onder vyf.

Wat is die simptome?

Daar is geringe koors; die eerste teken kan ’n onwilligheid wees om te eet. ’n Paar klein seertjies verskyn op die tong of op ander plekke in die mond. Kort daarna verskyn daar pêrelagtige blase op die handpalms en voetsole, asook aan die buitekant van die hande en voete. Dit alles genees binne ’n week of wat.

Hoe moet jy maak?

Dis ’n ligte infeksie en vereis geen behandeling nie.

Babamasels (Roseola)

Wie?

Babas tussen ses en 24 maande.

Wat is die simptome?

Skielike koors, prikkelbaarheid en dalk koorsstuipe. Die koors bly drie dae hoog. ’n Ligte, gespikkelde, pienk uitslag verskyn op die lyf en nek; die koors sak. Die uitslag klaar ná een tot vier dae op. Daar kan swelling om die oë wees en ’n mens kan limfkliertjies aan die agterkant van die kop voel.

Hoe moet jy maak?

Parasetamol sal jou kind beter laat voel en miskien koorsstuipe voorkom. Sy eetlus word nie juis aangetas nie en jy kan steeds borsvoed.

Waterpokkies (Varicella):

Wie?

Enige ouderdom, maar veral ernstig by pasgebore babas en dikwels by volwassenes.

Wat is die simptome?

Koors en ’n jeukerige uitslag van pienk kolletjies oral oor die lyf. Dit word binne ure blasies en ná drie tot vier dae rofies wat jeuk. Die rowe val ná sewe tot 14 dae af.

Hoe moet jy maak?

Dis hoogs aansteeklik. Die eerste besmettingstekens verskyn eers meer as twee weke ná kontak; daarom is dit moeilik om uit te roei as dit by ’n skool uitbreek. Kalamynmelk verlig die gejeuk en droog die blase uit. Vermy aspirien. Moenie krap nie. Behandel kolle met ’n ontsmettingsmiddel en antibiotikum as dit ernstig is.

Masels (Rubeola):

Wie?

Jonger kinders word deur hul ma se teenliggame beskerm, mits sy ook masels gehad het of ingeënt is.

Wat is die simptome?

Koors, prikkelbaarheid, loopneus, rooi oë wat traan en ’n hoes wat oor ’n tydperk van drie dae ál hewiger word. Later verskyn ’n klomp wit kolletjies op ’n rooi basis aan die binnekant van die wange. Ná koors van drie tot vier dae verskyn ’n kollerige uitslag: eers op die nek en gesig, en versprei dan oor die lyf.

Hoe moet jy maak?

Dien parasetamol toe om die koors te breek, asook baie vloeistof. Antibiotika is onnodig, behalwe met komplikasies soos oorinfeksie of longontsteking. Ongeveer vyf dae nadat die uitslag verskyn het, is die siekte nie meer aansteeklik nie. Die meeste kinders herstel volkome binne sowat 10 dae. Masels kan heeltemal voorkom word deur inentings op nege en 18 maande.

-          Suzaan Hauman