Die baas van 'n plaaslike modelagentskap, Dawie de Villiers, het Woensdag die hof gevra om sy vonnisoplegging uit te stel.

Dawie is in Februarie skuldig bevind op 38 aanklagte van onder meer kinderverkragting, seksuele aanranding, bedrog en aan klagte wat met kinderpornografie verband hou.

Hy sou Woensdag gevonnis word, maar die saak is uitgestel sodat De Villiers reëlings kan tref om geld te bekom of vir regshulp kan aansoek doen.

Sy prokureur het haar aan sy saak onttrek en gesê hy het twee tot drie maande nodig om sy finansies uit te sorteer. Die hof het egter gesê hy het reeds voorheen uitgestel gekry en dat hy op 14 Maart weer in die hof moet wees vir vonnisoplegging.

Volgens De Villiers het berigte in die pers sy inkomste geknou. "Ek werk vir myself en die impak van die media en alles wat rondom hierdie saak gebeur het, het my inkomste geraak."

Hy is tydens sy verhoor as ’n swak getuie bestempel en sy weergawe het heelparty teenstrydighede gehad, het regter Cassim Moosa vroeër tydens De Villiers skuldigbevinding gesê.

De Villiers het onder meer gesê die staatsgetuies het met die ondersoekende TV-program Carte Blanche saamgesweer om hom en sy modelagentskap, Modelling South Africa, leed aan te doen.

Van die bewerings teen hom was dat hy ’n 15-jarige meisie in 2011 verkrag het, ’n volwasse vrou teen haar wil anaal gepenetreer het, ’n 14-jarige betas het en minderjarige kinders aan pornografie blootgestel het.

Sy eksvrou het ook vroeër getuig dat sy eksplisiete naakfoto's van een van Dawie se minderjarige slagoffers in hul huis gevind het. Hulle is daarna uitmekaar.

Ekstra bronne: IOL, The Citizen.