. Die 28-jarige TV-persoonlikheid, wat verlede week haar verlowing aan die sjef Matthew Mosshart (29) aangekondig het, het Saterdag met die ring gespog ná haar en haar pa, die rocker Ozzy Osbourne (64), se pamperlangsessie by die salon esNAIL in Los Angeles.

Sy het die foto gelaai van haar blink naels, kompleet met ’n swart kruis op haar middelvingers, en haar knoets van ’n verloofring was duidelik sigbaar. “Ek is dol oor my nuwe manikuur, dankie #esnails,” het sy getwiet.

Aanhangers het haar gelukgewens met vrolike boodskappe soos: “Pragtige verloofring, Kelly! Geluk,” en “Baie bly vir jou. Jy verdien dit!”

Die Fashion Police-paneellid het daarna ’n kiekie gelaai van haar en haar pa se hande met die woorde: “My pa het sy naels ook laat doen! Kyk hoe koel lyk dit!”

Ozzy se swart naels was elkeen versier met ’n kruis en hy het ’n groot goue skedelring gedra.

Matthew het die groot vraag op Oujaarsaand tydens ’n vakansie op die Karibiese eiland Anguilla gevra, maar die paartjie het die verlowing tot nou geheim gehou. Kelly se ring is ontwerp om soos ’n ou oorring van Ozzy te lyk. “Ek het altyd my vinger langs sy oor gehou toe ek klein was en gesê: Ek soek so ’n ring. Nou het ek een!”