Kelly Osbourne gaan in Engeland trou.

Die ster van Fashion Police en haar verloofde, die vegetariese kok Matthew Mosshart, gaan ’n tradisionele troue in haar ouers se herehuis in Buckinghamshire hê. Haar ma, Sharon, wat die troue reël, het dit verklap.

Sy het aan E! News gesê: “Dit gaan baie Engels en baie Victoriaans wees; by ons huis in Engeland.”

Die X Factor-beoordelaar het voorts gesê sy hou baie van Kelly se verloofde. Hy het haar en haar rocker-man, Ozzy, om hul dogter se hand gevra voor hy Kelly gevra het om te trou.

“Sy is lief vir hom en hy is lief vir haar,” het Sharon gesê. “Ek hou van die feit dat hy my dogter waarlik liefhet en haar gelukkig maak. Dit maak my ook gelukkig.”

Kelly (28) het onlangs gesê sy wil van Los Angeles terugtrek Engeland toe wanneer sy met ’n gesin begin. Sy wil nie hê haar kinders moet ’n Amerikaanse aksent hê en haar “mom” (pleks van die Britse “mum”) noem nie.