’n Onbekende persoon het R1,5 miljoen geskenk om te keer dat Kelly Clarkson ’n ring koop wat aan die skrywer Jane Austen behoort het.

Die sangeres, wat haarself ’n “geskiedenis-bleeksiel” noem, het verlede jaar sowat R2,3 miljoen vir die gesogte ring aangebied, maar die Jane Austen-huismuseum in Hampshire het nou ’n sessyferdonasie ontvang om die ring te koop.

Nadat die bod aanvanklik aan Kelly toegestaan is, is sy verhoed om die turkoois-en-goud-ring uit die land te neem omdat dit tot ’n “nasionale skat” verklaar is en ’n uitvoerverbod daarop geplaas is. Belangstellendes is tot 30 September gegee om die voormalige American Idol-wenner se aanbod te klop en dit lyk of die museum, in die omskepte huis van die ikoniese Pride and Prejudice-skrywer, gaan sorg dat dit in die Verenigde Koninkryk bly.

Staatsamptenare is tevrede dat die museum “ernstige bewys van belangstelling om die ring te koop” getoon het nadat dit die donasie van R1,5 miljoen ontvang het. Dit het nou tyd tot Desember om die sowat R8 miljoen in te samel om Kelly se bod te ewenaar.

Die museum het aanvanklik probeer om die ring by ’n veiling te koop, maar hul beskeie aanbod is deur die 31-jarige ster geklop. Sedert die uitvoerverbod ingestel is, het Austen-aanhangers hard gewerk om dieselfde bedrag as Kelly se aanbod in te samel.

Een van hulle, Louise West, het aan BBC News gesê: “Ons kon die skrif aan die muur sien. Ons het geweet dit sou vir baie meer gaan as wat ons in so ’n kort rukkie kon insamel.”

Hoewel sy nie ’n stukkie letterkundige geskiedenis mag besit nie, het die museumpersoneel Kelly genooi om hulle te kom besoek.