Kelly Clarkson kan nie wag om binne ’n paar weke met Brandon Blackstock te trou nie.

Die Catch My Breath-sangeres en haar verloofde beplan om later vandeesmaand ’n klein huwelikseremonie te hê. Brandon het twee kinders, Savannah en Seth, uit ’n vorige huwelik. Kelly het al gesê sy hoop om voor einde vanjaar swanger te raak.

Kelly (31) het Woensdag aan The View gesê: “Ons het pas klaar getoer, en binne ’n paar weke gaan ons net die kinders neem en iets baie kleins doen.

“Hy het twee kinders, ’n 12-jarige en sesjarige, en hulle is wonderlik. Ek is werklik gelukkig.”

Die paartjie het eers ’n groot troue in Nashville, Tennessee, beplan.

Sy het gesê: “Ons het dit begin reël en besef troues is nie vir bruide of bruidegomme nie.”

Die American Idol-wenner twyfel nie dat Brandon die regte man vir haar is nie. Sy het gesê hy is perfek vir haar. Hulle het op dieselfde klein dorpie grootgeword, maar mekaar nie geken nie.

Kelly het ook vertel sy wil graag kinders by Brandon hê en dat sy daarvan hou om ’n stiefma te wees.