Die Stronger-sangeres (31), wat haar en manlief, Brandon Blackstock, se eersteling verwag, het op die Amerikaanse geselsprogram Today gesê: “Ek weet nie hoekom hulle dit oggendnaarheid noem nie. Dis ’n groot grap, want ek is dag en nag naar. Ek is nogtans baie opgewonde dat ek swanger is. Ek sien uit na die tweede trimester. Hulle sê dis beter.”

Kelly, wat al gesê het hoe graag sy met ’n gesin wil begin, het ook verduidelik hoekom sy besluit het sy gaan die nuus so vroeg deel. “Ons het probeer wag tot ná my eerste trimester, want dis wat jy veronderstel is om te maak omdat die kans op ’n miskraam dan skraler is. Maar almal het daaroor gepraat en ek moes iets kanselleer omdat ek so siek was. Ek wou nie hê mense moet dink ek kanselleer omdat ek lui of iets is nie, en toe deel ons maar die nuus.”

Kelly glo sy verwag ’n dogtertjie en het reeds ’n naam gekies. “Wel, ek voel dit aan, want sy kry my onder. En natuurlik is dit ’n meisie wat sulke moeilikheid veroorsaak. Dit moet ’n meisie wees.”

Gevra oor die naam, het sy gesê: “Ons gaan dit nog nie verklap nie, want ek wil nie hê iemand anders moet my naam steel nie. Ons het vir ons kind ’n naam gegee voor ons swanger was.”