Kelly Clarkson was rasend toe sy haar verloofring Saterdag 8 Junie by vanjaar se CMA- musiekfees in Nashville, Tennessee, verlê.

Die sangeres (31), wat op 20 Oktober met haar musiekbestuurder, Brandon Blackstock afhaak, het haar verloofde herhaaldelik verskoning gevra toe sy tydens die fees op die verhoog haar eerste liedjie, Stronger, sing en skielik besef haar pasgemaakte kanariegeel verloofring is nie aan haar vinger nie.

Volgens CMT.com het die voormalige American Idol-wenner senuwees die skuld gegee vir die verdwyning van haar ring. Sy het vir die 60 000 konsertgangers gesê: “Dis my eerste optrede by ’n country... -ding. Ek is al die hele dag op my senuwees, want ek wou vir julle op my beste wees!”

Die dag daarna het sy verlig op Twitter laat weet sy het haar ring gekry: “Vir al my besorgde bewonderaars, ek het my ring gekry! Ernstig, ek was die hele nag paniekbevange . . . Brandon ook, haha!”

Kelly, wat in Desember verloof geraak het, het onlangs erken sy voel “oorweldig” deur haar trouplanne, want dis ’n stryd om hul gastelys onder beheer te kry.

“Ons is soort van oorweldig deur die beplanning van die troue,” het sy verduidelik. “Ons dink daaraan om vanjaar nog ’n herfstroue te hê en dit in die buitelug te hou. Ons probeer die plegtigheid klein hou, maar dis moeilik. Ek het letterlik twee weke gelede ’n ineenstorting oor die gastelys gehad. Ek is boonop vreesbevange dat almal my gaan dophou terwyl ek met die paadjie afstap.”