Kelly Clarkson hou daarvan om haar verloofde se twee kinders uit sy vorige huwelik te versorg en sien daarna uit om amptelik hul stiefma te word.

Die sangeres trou einde Oktober in Nashville, Tennessee, met Brandon Blackstock. Sy het vertel sy geniet dit om na sy twee kinders te kyk, maar gewaarsku sy kan streng wees.

Kelly (31) het gesê: “Ek het nou ’n 12-jarige en ’n sesjarige, en dit nadat ek ses jaar lank ’n alleenloper was. Ons woon almal saam en alles. Dis so anders, maar dis perfek.

“Hulle is wonderlik en ek is mal oor die ma-ding. Ek sê vinnig: Ek het mos gesê jy moenie daaraan vat nie! Ek is nes my ma. My ma was streng.”

Kelly is te besig om saam met Maroon 5 te toer en aan haar nuwe album te werk om die laaste voorbereidings vir haar troue te geniet.

Sy het aan Ryan Seacrest op sy radioprogram KIIS-FM gesê: “Dis nog twee maande; dis die einde van Oktober. Ek is so moeg daarvoor. Dis oorweldigend. Ons doen alles: die toer en die troue en die Kersalbum. Ek is so moeg vir die deel van die troue.”