Kelly Clarkson  meen haar dogter is “bestem” om ’n musieklegende te word. River Rose, die popster (32) en haar man, Brandon Blackstock, se eersteling, is in Junie gebore. Kelly het Dinsdag opgewonde op Twitter vertel van ’n geskenk wat Blake Shelton (38) en Miranda Lambert (30) vir haar dogter gegee het en wat sy reken River se musiektalent sal help ontwikkel. “Tannie @mirandalambert en oom @blakeshelton is die beste! Hiermee is sy bestem om ’n country- of rocklegende te word! Dankie, julle!” het sy getwiet en ’n foto bygevoeg van ’n kitaar met River se naam op die nek.

Kelly het ook bewonderend getwiet oor haar man wat hul dogter vashou. “Oukei, dit is te oulik @BBlackstock :) Moes dit deel! River is dol oor haar pappa en oggendtyd!” het sy daarby geskryf.

Kelly het River kort ná haar geboorte op Twitter aan die wêreld gewys en haar “die beste ding op aarde” genoem.

Kelly en Brandon is verlede jaar in Oktober getroud. Brandon het twee kinders uit sy huwelik met Melissa Ashworth White.

Sy het voorheen gesê om ’n stiefma te wees het haar begeerte versterk om haar eie kinders te hê. “Ek wou regtig nooit kinders gehad het nie, want ek is nogal selfsugtig oor my loopbaan. Maar om saam met Seth na sokkerwedstryde te gaan en saam met Savannah huiswerk te doen – ek is regtig baie lief vir julle almal,” het sy voorheen op die program Valentine in the Morning aan die omroeper Sean Valentine gesê. “Dis so koel. Dit klink vreeslik stroperig, maar daar’s baie meer aan die lewe. Ek het dit baie gelukkig getref met die hele kindersituasie. Hulle is wonderlik.”

© Cover Media