Kelly Clarkson het onthul sy en Brandon Blackstock het al hul planne vir ’n groot troue gekanselleer omdat die beplanning hulle oorweldig.

Die sangeres en die musiekbestuurder het hul planne vir ’n swierige opelugtroue saam met hul vriende en familie laat vaar en gaan nou eerder na ’n afgeleë plek vlieg vir ’n intieme seremonie waarby net Brandon se twee kinders gaste sal wees.

Sy het aan People.com gesê: “Ons is so besig dat ons dit eindelik die ander aand aanvaar het. Ons het gesê: ‘So, ons verander van plan en ons wil wegloop.’ Ons is net so oorweldig daardeur – deur al die besluite.

“Ons het almal laat weet watter datum hulle moet oophou, maar toe het dit gek geraak en al die besonderhede het uitgelek. Toe, eerlik, die beplanning . . . ek het ’n Kersfeesalbum wat uitkom. Ek doen op die oomblik ’n hele klomp dinge met State Farm. Ons het twee kinders wat pas met skool begin het. Ons gaan na al hierdie voetbalwedstryde en sokkerwedstryde en vlugbalwedstryde en Brandon bestuur een van die grootste kunstenaars (Blake Shelton) in countrymusiek. Hy vlieg die wêreld vol.”

Kelly (31) het die nuus aan haar vriende en familie bekendgemaak deur aan hulle ’n verlowingsfoto te stuur en hulle vir hul begrip te bedank.

Daarby het ook gestaan: “Dit gaan net ek, Brandon, sy twee kinders en die predikant wees.”

Kelly en Brandon beplan nie ’n groot partytjie vir hul geliefdes ná die tyd nie en sê hul “hele lewe is ’n viering”.

Sy het bygevoeg: “Ons een vriend hou wel vir ons ’n partytjie omdat ons byna klaar is met die bou van ons huis. Hy hou vir ons ’n groot partytjie en al die mense wat by ons troue sou wees gaan daar wees.”