Kelly Clarkson en Brandon Blackstock is getroud.

Die 31-jarige sangeres en die musiekbestuurder Brandon is sedert Februarie verlede jaar ’n paartjie en het op Sondag 20 Oktober by die luukse BlackBerry Farms-oord in Walland, Tennessee, afgehaak.

Kelly het op Twitter laat hoor: “Ek is amptelik mev. Blackstock :) Ons het gister by die Blackberry Farms in TN, die mooiste plek ooit, getrou! Dankie, Temperley, vir my pragtige rok! En dankie aan my vriend @JimVerraros & Maria Elena vir die mooi kopstuk!”

Die sangeres het die tonge laat klap dat die troue naby is toe sy verlede Dinsdag aansoek doen om ’n huwelikslisensie in Sumner County in Tennessee. Volgens die lisensie het die paartjie net 30 dae om af te haak.

Kelly wou eers ’n groot troue hê, maar het van plan verander nadat sy te oorweldig gevoel het. Sy hoop om teen Kersfees swanger te wees met haar eerste kind en het gesê ’n baba is die enigste geskenk wat sy van Brandon wil hê.

“Ek het klaar vir hom gesê ek wil ’n baba hê sodra die troue agter die rug is. Ek het gesê dis die Kersgeskenk wat hy my kan gee.”