Die gewese American Idol-deelnemers Kelly Clarkson en Jennifer Hudson gaan glo hul terugkeer na die program maak, dié keer as beoordelaars.

Die vervaardigers het Kelly, wat die wenner van die eerste seisoen ( 2002) was, en Jennifer, wat sewende in 2004 was, gevra om by die paneel aan te sluit vir die nuwe seisoen nadat hulle vir Mariah Carey, Nicki Minaj en Keith Urban die trekpas gegee het.

Die deurwinterde beoordelaar Randy Jackson het onlangs die program gegroet. Die grootbase wil nou net drie beoordelaars gebruik. Clay Aiken en Adam Lambet is onder diegene wat gevra is om die derde stoel vol te sit.

’n Bron by Fox het aan E! News gesê: “Niks is nog besluit nie; dis 95 persent afgehandel. Die paneel met vorige deelnemers is ’n poging om die kykertal op te stoot deur die bekende Idol-gesigte waaroor aanhangers dol is, terug te bring. Dit sal Idol-sterre wees wat vir die volgende geslag leiding gee.”

Die besluit om vir die eerste keer in vyf jaar na drie beoordelaars terug te keer, is glo om die dalende kykertal hok te slaan wanneer die 13de seisoen begin. “Die formaat gaan sorg vir nuwe kinkels in die volgende seisoen,” sê Kevin Reilly, die voorsitter van Fox se vermaak-afdeling.

Kevin sê die uitgerekte middelrondes sal dalk verander word omdat hy glo dis hoekom die kykertal afgeneem het.