Die sangeres Kelly Clarkson het onlangs bekendgemaak sy verwag haar tweede kind!

Sy en haar man, Brandon Blackstock (38), het reeds ’n 14 maande oue dogter, River Rose.

Kelly (33) het Woensdagaand gesukkel om haar liedjie Piece by Piece bekend te stel. Toe bars sy in trane uit en kondig hul goeie nuus aan. “Ek was glad nie van plan om iets hieroor te sê nie, maar ek is swanger. Ek gaan deur ’n moeilike tyd,” het sy aan die skare by die Staples-sentrum in Los Angeles gesê.

Die doel van die liedjie is tweeledig: dis ’n ode aan haar eie pa en ook om Brandon te prys omdat hy ’n goeie pa is. “Ek gaan die liedjie sing dat dit bars. Dit is nie die manier waarop ek dit graag sou wou aankondig nie . . . op die oomblik haat ek die liedjie,” het sy in ’n grap gesê terwyl sy trane afvee.

“Op die oomblik haat my grimeerkunstenaar my. Ek wil net nie hê julle moet dink ek is dronk of op pille nie.”

Nadat die voormalige American Idol-wenner die snit klaar gesing het, het sy haar aanhangers vir hul geduld bedank. Sy het Brandon ook verskoning gevra omdat sy hul nuus so onverwags uitgelap het.

“Ek wil graag vir my man jammer sê. Dit was nie beplan nie,” het sy gesê. “Ek wou net nie hê julle moes dink ek is van lotjie getik of so iets nie. Eerlikwaar, my hormone pla my verskriklik vandag . . . ek het nog nie opgebring nie. Dit is wraggies ’n oorwinning, mense.”

Kelly en Brandon het mekaar in Februarie 2012 ontmoet en in Oktober 2013 het hulle afgehaak.

Hoewel sy aanhou sing het, het sy gesukkel om haar emosies in toom te hou.

“Julle weet wat is nie maklik om te doen terwyl jy tegelykertyd huil en stik nie? Sing. Ek is so bang om met my man te praat,” het sy bygevoeg voor sy Cool for the Summer van Demi Lovato gesing het. “Ons het nog nie eens ons familie daarvan vertel nie!”

'n Aanganger het die geleentheid op kamera vasgevang.

© Cover Media