Die petisie is Woensdag saam met ’n “keelvolbrief” oor plaasmoorde deur Steve Hofmeyr en Afriforum aan ’n verteenwoordiger van Zuma se kantoor oorhandig.

In die brief sê Afriforum sy lede is keelvol vir die toenemende geweldsmisdaad, plaasaanvalle en –moorde. Zuma en die regering se onwilligheid en onvermoë om hierdie misdade te bekamp word ook aangespreek.

Die brief bevat statistieke, soos dat boere en plaaswerkers sedert Februarie 2017 slagoffers was van ten minste 30 bevestigde plaasaanvalle.

Zuma word versoek om te verseker staatsdepartemente lees weer die MRK-verslag en om die aanbevelings toe te pas en dat hy en die ANC ophou om grondbesetting en die gebruik van geweld teenoor boere en plase aan te hits.

’n Verdere versoek lui dat daar daadwerklik opgetree word teen mense wat onwettige grondbesetting en gebruik van geweld teen boere aanhits.

“Ons vra dat die gewone burgers wat tot die land se ekonomie bydra, wat die land van kos voorsien en wat ’n verskeidenheid werksgeleenthede skep, waardig (is) om soortgelyke beskerming te kry.”

’n Dag voor die oorhandiging het Steve op sy Facebookblad geskryf keelvol is volgens hom nogal sag gestel.