Die ster van The Matrix gaan in die Amerikaanse program Rain speel, wat gegrond is op die topverkoper-reeks rillerboeke deur Barry Eisler, berig Deadline.

Hulle berig ook Keanu gaan die program vervaardig in samewerking met die skrywer, Chad Stahelski, David Leitch en bestuurders van Slingshot Global Media. Die maatskappy gaan ook die verspreiding behartig.

“Ons is verskriklik opgewonde om aan ’n geliefde eiendom [beloved property] te werk met so ’n talentvolle en hardwerkende akteur soos Keanu,” het Slingshot Global Media se stigter, David Ellender, wat dit in Februarie gestig het, Maandag gesê.

“Hierdie reeks gaan die maatskappy se wegspringplek wees en die fokus plaas op ons benadering (ons fokus op talent en gehalte) binne die immer groeiende en veranderende medium van televisie.”

Rain kyk na die storie van die sluipmoordenaar en anti-held John Rain, wat deur Keanu gespeel gaan word.

Die akteur was blykbaar gretig om aan die projek te begin werk, en om met Chad en David te werk, wat die regie van sy eerskomende fliek John Wick behartig het.

“Ek is ’n groot aanhanger van Barry se werk en ek is opgewonde oor die geleentheid om sy ikoniese karakter en ongelooflike wêreld lewe te gee,” het hy aan Deadline gesê.

“Ek sien uit na my vennootskap met Slingshot met my eerste reeks, en om weer met Chad en David te werk.”

Volgens Deadline is daar nog nie ’n skrywer aangestel nie.

Keanu het tot volgende jaar projekte op die horison.

Die 49-jarige ster het verlede jaar sy debuut as regisseur in die aksiedrama Man Of Tai Chi gemaak.

Tesame met die vrystelling van John Wick gaan hy ook in Eli Roth se riller Knock, Knock speel, wat middel volgende jaar uitgereik word.

Hy verfilm tans die riller The Whole Truth, wat ook volgende jaar uitgereik gaan word, volgens IMDb.

© Cover Media