Katy Perry sê sy het met haar egskeiding van Russell Brand gevoel of sy met die vuis in die gesig geslaan en by die trappe afgeskop is.

Die Roar-sangeres, wat in 2011 van Russell (38) geskei is nadat hy hul huwelik met ’n teksboodskap beëindig het, sing in haar nuwe liedjie By the Grace of God oor die selfdoodgedagtes wat sy toe gehad het.

Katy (28) het aan The Sunday Times se tydskrif Culture gesê: “Ek is nie die soort mens wat altyd sê ‘wat jou nie doodmaak nie, sal jou sterker maak’ nie.

“Ek was sowat twee weke lank in die bed. Ja, ek was teen die grond. Dit het baie seergemaak. Ek het ’n groot knou gekry.

“Ek wou die liedjie eers Adult Reality noem, want Teenage Dream was so stroperig en toe is dit asof ek met die vuis in gesig geslaan en ’n paar keer by die trappe afgeskop word. Ek moes die harde werklikheid in die gesig staar dat alles nie altyd maanskyn en rose is nie.”

Die sangeres het haar selfwaarde verloor en in ’n afwaartse spiraal beland toe sy en die Britse komediant uitmekaar is.

Sy het bygevoeg: “Ongelukkig het ek uitwaarts ’n goeie selfbeeld gehad, maar nie die innerlike soort opgebou nie. My selfwaarde was in iemand anders se hande. Dit is nooit ’n goeie idee nie, want dit kan enige tyd van jou weggeneem word. Dit is toe ook, en ek was verpletter.”