Katy Perry en Rihanna het Maandag vrede gemaak nadat hulle maande gelede oor Chris Brown ’n uitval gehad het.

Katy (28) en Rihanna (25) was maande lank kwaaivriende nadat die liefde in November weer ’n rukkie geblom het tussen Rihanna en Chris (24), wat haar in 2009 aangerand het. Maar Maandag was Rihanna ook genooi toe Katy saam met 15 vriende by die West Village-restaurant The Lion in New York gaan uiteet het. Katy se aan-af-kêrel, die sanger John Mayer (35), was ook daar.

’n Bron na aan Rihanna het aan UsMagazine.com gesê: “Sy het haar by die groep van 15 op die eerste verdieping aangesluit en langs John en Katy gesit om in te haal.”

Rihanna het ’n foto van hul hereniging op haar Instagram-blad geplaas, met die onderskrif: "She. X She. #KatyAnna #RIHunited"

In Februarie het Katy toenadering by Rihanna gesoek deur haar op Twitter geluk te wens met haar verjaardag, net weke nadat sy haar by die Grammy-aand vermy het.

Katy het glo ’n spesiale versoek gerig om nie naby Chris en Rihanna by die toekenningseremonie in Los Angeles te sit nie. ’n Bron het destyds gesê: “Hulle is nie meer na aan mekaar nie omdat Katy dit nie goedkeur dat Rihanna met Chris Brown uitgaan nie.”

Die sangeresse was laas in Mei by Rihanna se konsert in die Barclays-sentrum in Brooklyn saam. Katy en John was toe vir ’n rukkie uitmekaar, en kort daarna het Rihanna haar verhouding met Chris finaal beëindig.

’n Ooggetuie het gesê dit het by die ete gelyk het of Katy en John weer danig met mekaar is.

Die bron het gesê: “Sy en John was tog te dierbaar. Katy het hom as haar kêrel voorgestel en hy het haar liefderik vasgehou, met sy arm om haar.”