Die sangeres van die treffer Roar het die afgelope naweek die onbetwiste koningin van die sosiale netwerk geword en die tiener-hartebreker Justin Bieber onttroon toe haar getal aanhangers gestyg het tot 46,54 miljoen vergeleke met Justin se 46,51 miljoen.

Katy kraai ook koning op Facebook en spog met 59,26 miljoen aanhangers vergeleke met die 19-jarige sanger van die treffer Baby se 57,28 miljoen. Justin het in Januarie vir Lady Gaga onttroon; dié Applause-sangeres, wat twee jaar voor in die koor was, se aantal Twitter-aanhangers staan op 40,40 miljoen.

Volgens die webtuiste twittercounter.com is pres. Barack Obama en die countrysangeres Taylor Swift in die topvyf van die gewildste mense op die sosiale webwerf.

Katy skryf haar kubergewildheid toe daaraan dat sy opgeruimd bly en diegene ignoreer wat nie van haar hou nie. “Ek weet nie van hulle bestaan nie omdat ek nie aandag aan hulle gee nie. As jy almal tevrede probeer stel, gaan jy geen idee hê wie jy is nie. Jy verloor jouself as jy mense tevrede wil stel, en dan bly daar niks unieks oor nie.”

Die 28-jarige popster sê haar grootste wenk is om nooit te drink en dan te twiet nie. “Sit die foon neer wanneer jy besluit jy gaan ’n glas wyn drink,” skerts sy. “Moenie drink en twiet nie.”