Die sangers het hul aan/af-verhouding in Junie hervat nadat Katy (28) verklap het sy is “smoorverlief” op John (35) en dat dinge so ernstig is dat hulle ’n plekkie saam gekoop het.

’n Bron het aan Hollyscoop gesê: “Katy en John het ’n nuwe huis saam uitgekies sodat hulle ’n lewe saam kan begin. Hulle gaan daar saambly.”

Pelle het ook vertel Katy en John praat oor trou. Die geskeide Katy, wat voorheen tydens ’n spogseremonie in Indië met Russell Brand getroud is, soek ’n intieme plegtigheid eerder as ’n groot opskop.

Die bron het bygevoeg: “Hy het nog nie die jawoord gevra nie, maar hulle het al oor trou gepraat. Ek raai hulle gaan trou, maar nie ’n groot seremonie hê nie. Katy wil in elk geval nie een hê nie. Sy voel John is haar sielsgenoot. Ek het Katy nog nooit so gelukkig gesien nie, en ek ken haar al jare!

“Op die oomblik wil nie een van hulle kinders hê nie. Met sy nuwe album en haar nuwe projekte wil hulle nou eerder op hul loopbane konsentreer, maar dit sê tog iets dat hulle saam intrek.”