Katy Perry en John Mayer se vriende wil hê hulle moet verloof raak en voorspel hy sal haar binnekort die jawoord vra.

Die 36-jarige Wildfire-sangeres gaan die Roar-sangeres in die nabye toekoms vra om te trou. Sy is in Desember 2011 van die Britse komediant Russell Brand geskei ná ’n huwelik van 14 maande.

’n Bron het aan E! News gesê: “Dis onvermydelik.”

Die bron het gesê die twee se verhouding is baie ernstig en bygevoeg: “Almal wil hê hulle moet verloof raak. Hulle is nommerpas.”

Katy het onlangs gepraat oor haar gevoelens vir die sanger en liedjieskrywer met wie sy sedert Junie 2012 uitgaan.

Sy het gesê: “Ek gaan uit met my droom-ou. Ek was lank op hom verlief.”

Sy het ook volgehou sy het daarvan gehou om getroud te wees, al is sy toe geskei.

Sy het gesê: “Natuurlik. Ek het baie daarvan gehou. Dit was ’n nuwe, lekker, opwindende reis. Maar ek hou van hoe ek nou is en ek dink alles  gebeur om ’n rede.”

John, wat voorheen met Jessica Simpson en Jennifer Aniston uitgegaan het, het vroeër vanjaar in Santa Barbara, Kalifornië, vir die 29-jarige ster ’n hartvormige robynring vir Valentynsdag gegee. Maar ’n bron het toe volgehou hulle is nog nie gereed om af te haak nie.

Die bron het gesê: “Dis ’n unieke Daniel Gibbings-ring met ’n hartvormige robyn van 12 karaat in die middel, geaksentueer met twee traandruppelvormige, gefasetteerde saffiere en robyne wat in 20 karaat goud geset is.”