Mense met ’n voorliefde vir katte én koffie se wildste drome is eindelik bewaarheid: New York het pas ’n katkafee gekry, berig telegraph.co.uk.

Liefhebbers van katte en koffie kan nou hul gunsteling “cat’achinos” bestel, terwyl die oulikste katjies om hulle baljaar.

En dié wat so deur die katte begeester word, kan een van 15 gratis aanneem.

“Ons wil hê mense moet hierheen kom, koffie bestel, tussen katte wees en terselfdertyd ook ’n bietjie oor katte en hul gesondheid leer,” sê Niky Roberts, ’n verteenwoordiger wat gehelp het om die kafee op te rig.

“So kan ons mense oor katte opvoed en saam ’n verskil in hul lewe maak.”

Ongelukkig is die kafee ’n tydelike verskynsel. Katliefhebbers het net vier dae voor die verskyn-en-verdwyn-kafee weer afgetakel word.

– Christiaan Boonzaier