Die 34-jarige aktrise, wat in Junie 2012 ná ’n huwelik van ses jaar van Tom Cruise (50) geskei is, sukkel glo om interessante fliekrolle te kry en pas nog aan in die rol as enkelma vir haar sewejarige dogter, Suri Cruise.

’n Vriendin van die voormalige Dawson’s Creek-ster sê Katie is gefrustreerd oor die gebrek aan groot rolle wat vir haar aangebied word en is erg teleurgesteld nadat haar tweede Broadway-toneelstuk, Dead Accounts, weens swak kaartjieverkope kortgeknip is.

“Dis vir haar moeilik om werk te kry. Sy het nie die afgelope ruk baie gewerk nie en dis beslis nie omdat sy dit so verkies nie.”

Hoewel Katie nog haar voete vind, sê ’n vervaardiger wat al saam met die brunet gewerk het sy is gelukkig. “Sy het die moed gehad om haar tasse te pak en beheer oor haar lewe te neem,” het die bron aan People.com gesê. “Dinge was moeilik, maar sy is gelukkig. Sy kyk nou vorentoe.”

Die aktrise was al ’n paar keer uit saam met Luke Kirby (34), haar medester in Mania Days, maar soek nie ’n ernstige verhouding nie. “Hulle bring baie tyd saam deur. Luke dink Katie is ongelooflik,” het die bron gesê. “Maar sy vat dit maar rustig wat romanse betref. Sy het dit nie nou nodig nie. Ek dink nie sy is gereed daarvoor nie. Suri is haar hoofprioriteit.”

Volgens een van haar bure is die aktrise, wat in New York woon en alleentoesig oor Suri het, die afgelope ruk “van stryk af. Jy kan aan haar gesig sien sy sukkel. Suri is nogal ’n handvol.”