Die 36-jarige aktrise was vyf jaar met die akteur van Mission Impossible getroud voordat hulle in 2012 geskei is. Uit die huwelik is 'n dogtertjie Suri (nou 9) gebore. Dit is blykbaar vir haar wat Kate meer geld uit die 53-jarige akteur probeer ky.

“Katie het aan vriende gesê sy gaan die eis instel omdat sy sukkel om 'n dubbelstad-lewenstyl vir Suri te befonds. Suri geniet privaatonderrig,” het 'n ingeligte bron aan die Londense tydskrif Grazia vertel.

“Die lae-begroting rolprente waarin Katie die afgelope tyd opgetree het, betaal nie alte goed nie, vandaar die besluit om Tom sover te probeer kry om meer geld by te dra tot Suri se onderhoud.”

'n Klousule in hul egskeidingsdokumente bepaal blykbaar dat die voormalige ster van Dawson’s Creek nie meer geld van Tom kan eis voordat hulle nie drie jaar geskei is nie.

Toe hul egskeiding gefinaliseer is, het Katie alleen die toesig gekry oor hulle dogtertjie, asook 'n relatief klein finansiële skikkingsbedrag.

Volgens die bron betaal Tom £22 000 (sowat R449 320) per maand aan onderhoud vir sy dogter. Soos hul spruit se behoeftes groei, voel Katie egter blykbaar al hoe sterker dat die bedrag ontoereikend is.

“Sy glo dat die bedrag al minder aan Suri se behoeftes sal kan voldoen aangesien Katie 'n enkelouer èn 'n enkelversorger is,” het die bron voortborduur.

Martin, Katie se prokureurpa, help haar na bewering met die verloop van sake. Hy was ook destyds gemoeid met die opstel van haar voorhuwelikse kontrak met Tom.

“Katie is behoorlik voorberei vir 'n hofgeding,” het die bron voortgegaan.

Dit kom egter voor asof die ster van Edge of Tomorrow self ook bereid is om die saak voor 'n regter uit te spook.

'n Ander bron beweer: “Tom het aangedui dat hy Katie se finansiële eise teenstaan en hy is vasbeslote om haar uit te daag. Hy is geneig om te doen wat ook al nodig is, ten einde sy sin te kry.”

© Cover Media