Die 35-jarige aktrise balanseer ’n bedrywige akteursloopbaan met ma-wees vir Suri Cruise, en sy was ook onlangs in die regisseurstoel.

“Ek is baie gelukkig,” het sy aan USA Today gesê. “En ek is opgewonde oor die projekte wat wag. Ek sien ook uit daarna om weer (die TV-minireeks) The Kennedys te doen. Ek is mal oor ma-wees. Dis soms uitdagend, maar dis ’n pragtige verhouding.”

Katie het ’n agtjarige dogter by haar eksman, Tom Cruise. Die twee is in 2006 getroud en het in 2012 geskei.

Sy is dankbaar dat dit so goed met haar gaan, en verdeel deesdae haar tyd tussen New York en Los Angeles.

“My familie is gesond,” sê Katie. “Dit gaan goed. My ouma het pas 90 geword. My ma het haar ’n pienk boa en kroon gegee. Dis waarna ons almal mik. ’n Pienk boa en ’n kroon.”

Katie speel die titelkarakter in haar jongste fliek, Miss Meadows, en sê haar sekstonele in dié rol as onderwyseres was skreeusnaaks.

“Dit was Miss Meadows se eerste ervaring,” het die aktrise in ’n onlangse onderhoud met Extra TV gesê. “Toe dink ek, dit sou snaaks wees om iemand van haar ouderdom dit te sien ervaar en te geniet. Sy het dit baie geniet en ek het gedink dis baie snaaks.”

© Cover Media