Katie Holmes en Jamie Foxx gaan glo al twee maande uit.

Katie (34) gaan glo twee maande in die geheim uit met Jamie (45), wat eens op ’n tyd Tom Cruise se beste vriend was. Katie en Tom het ’n dogter, Suri (7), maar is in Julie verlede jaar ná ses jaar geskei.

’n Bron het aan die tydskrif In Touch gesê: “Katie en Jamie gaan al ’n rukkie uit.”

Die tweetjies is opgemerk by Katie se woonstel in Chelsea, New York. Sy het ook ’n aand saam met Jamie in die Trump Soho Hotel deurgebring. Dit was middel September, tydens die verfilming van sy rolprent Annie. Sy bestuurder het haar die volgende oggend huis toe geneem.

Nog ’n bron het gesê: “’n Personeellid by die hotel het bevestig Katie was die aand saam met Jamie daar.”

Die aktrise van Mania Days is in Julie die eerste keer saam met Jamie opgemerk by ’n Night of Legends-partytjie in The Hamptons.

’n Ooggetuie het gesê Katie het langs Jamie begin dans toe Lenny Kravitz die liedjie American Woman saam met Bon Jovi uitgevoer het. Sy het ook ’n slukkie van die akteur se mengeldrankie geneem.

Jamie het Katie en Ellen DeGeneres ’n groot druk gegee en toe saam met Pharrell Williams ’n liedjie gaan sing. Hy het Katie na die verhoog laat kom.

Jamie het vroeër, nadat hy en Tom saam verskyn het in Collateral, gesê sy loopbaan is te danke aan Tom. Hy het twee dogters, Corinne (19) en Annalise (4), uit vorige verhoudings. ’n Woordvoerder vir Katie het gesê sy en Jamie is net goeie vriende. Tog sê ingeligtes die paartjie het ’n verhouding en probeer dit geheim hou.