Die hertogin van Cambridge beplan om haar ouers met ’n vakansie te bederf om dankie te sê vir al hul hulp met haar eersteling.

Catherine en haar man, prins William van Brittanje, is baie ingenome met hoe hulpvaardig haar ouers, Michael en Carole Middleton, sedert die geboorte van hul seun, prins George, in Julie is. Catherine en George het ná sy geboorte drie weke lank by haar ouers in hul huis in Berkshire, Suid-Engeland, tuisgegaan.

’n Bron het aan die tydskrif Look gesê: “Dis nie snaaks dat Catherine en Carole ná Catherine-hulle se verblyf daar nader as ooit aan mekaar is nie. Die hertog en hertogin is so dankbaar dat hulle beplan om haar ouers in Oktober met vakansie in Parys te neem om dankie te sê.”

Nadat sy by haar ouers tuisgegaan het, het Catherine, wat voor haar troue met William bekend was as Kate Middleton, na Anglesey in Wallis verhuis. William het daar gewerk as ’n soek-en-reddingshelikopterloods. Noudat sy kontrak verstryk het, sal hulle na Kensington-paleis in Londen verhuis.

Daar word beweer ’n deel van die egpaar se woning, wat tans teen R16 miljoen opgeknap word, gaan so ingerig word dat Michael en Carole daar kan oorbly en byderhand kan wees om die klein prinsie te help grootmaak. Volgens bronne het dié anneks twee slaapkamers, ’n badkamer, sitkamer en eetkamer. ’n Bron het gesê: “Die gaste-area sal Carole en Michael in staat stel om naby Catherine te wees. William is werklik bly dat hulle naby gaan wees. Hy is ten gunste van die idee.”